Die koster het senuweeagtig ingestap en vir die orrelis geknik. Sy het stadig afgewen en tot stilstand gekom.

Stilte. Slegs gebreek deur die gekraak van ou houtbanke. Stilte.

Op die sekonde het die koster die knoppie gedruk en die kerkklokke het begin lui. Die deur langs die preekstoel het oopgegaan. Die dominee het ingestap gevolg deur die ouderlinge en diakens almal in hul beste donker pakke en wit dasse. Voor die steil trappe het die dominee sy kop laat sak (ek het altyd gewonder wat hy dan gebid het.) Die diakens en ouderlinge het aan weerskante van die preekstoel gaan staan. Wanneer almal hulle plekke in geneem het, het die hoofouderling geknik en hulle het soos een man gaan sit. Die dominee het sy toga opgetrek en die trappe bestyg. Hy het stadig sy Bybel, brille en preek notas gerangskik. Hy het die doilie met die fyn wit krale van die waterfles afgehaal en vir hom ’n glas water geskink. Hy het ’n sluk gevat en dan gesê – goeie môre broers en susters, ek groet julle in die naam van ons Skepper …

 

%d bloggers like this: